Moenie met siekte spot nie: die bepalings van die Wet op Dieresiektes

Die doel van die Wet op Dieresiektes 35 van 1984 (die Wet) is om voorsiening te maak vir beheer oor dieresiektes en -parasiete, vir maatreëls ter bevordering van dieregesondheid, en vir aangeleenthede wat daarmee in verband staan. Dit is alles goed en wel, maar wat beteken die Wet prakties vir die boer?

Klassifiseer dieresiektes

’n Dieresiekte is ‘n siekte waardeur die normale funksies van ’n orgaan of die liggaam van ’n dier aangetas of versteur word, deur enige protosoön, bakterie, virus, swam, parasiet, ander organisme of agent. 

Wat egter van belang is, is hoe dieresiektes geklassifiseer word. Dieresiektes word in terme van die Wet as hetsy beheerde of aanmeldbare dieresiektes geklassifiseer. 

Die verskil tussen ‘n beheerde en ‘n aanmeldbare dieresiekte is dat die Minister van Landbou verskeie algemene en spesifieke beheermaatreëls voorgeskryf het om die verspreiding van ‘n beheerde dieresiekte te voorkom. 

Die spesifieke beheermaatreëls wat van toepassing op beheerde dieresiektes is, is uiteengesit in die Regulasies van die Wet. 

Enige beheerde dieresiekte en enige aanmeldbare dieresiekte moet aan die Staatveearts gerapporteer word. 

Bek- en Klouseer, Brusellose (BM), Miltsiekte, Afrika Perdesiekte, Tuberkulose en Hondsdolheid is alles voorbeelde van beheerde dieresiektes. 

Bloutong, Knopvelsiekte en Snotsiekte is alles voorbeelde van aanmeldbare dieresiektes.

 

Rapporteer dieresiektes 

Die grondeienaar of plaasbestuurder moet alle redelike stappe neem ten einde die verspreiding van ‘n dieresiekte te voorkom. 

In terme van Artikel 11(1)(b) van die Wet, saamgelees met Regulasie 12 en Regulasie 12A, moet enige grondeienaar of plaasbestuurder, verbaal aan die Staatsveearts, enige gevalle rapporteer, waar hy/sy weet of redelik vermoed dat ’n dier met ‘n beheerde of met ‘n aanmeldbare dieresiekte besmet is. 

Die persoon wat die dieresiekte verbaal rapporteer moet so gou moontlik daarna skriftelik bevestig wie hul is, wat hul adres is, wat die simptome is wat hul waargeneem het, waar die betrokke dier tans is en of die dier in kontak met enige ander diere was. 

Grondeienaars en plaasbestuurders wat nie ‘n beheerde of aanmeldbare dieresiekte rapporteer nie, is skuldig aan ‘n oortreding in terme van die Wet. Sodanige oortreding is strafbaar met ‘n boete van R8 000 (agtduisend Rand) of tronkstraf van 2 (twee) jaar of beide. Indien jy die Wet herhaaldelik oortree sal jy swaarder gestraf word.

Die proses nadat ‘n dieresiekte gerapporteer is 

Die Direkteur van die Direktoraat Dieregesondheid (die Direkteur) sal die nodige stappe neem om die situasie te remedieer. Die Direkteur het baie wye magte in terme van die Wet. 

Die Direkteur kan skriftelik kennis gee dat hy beheer oor die plaas neem vanaf ‘n vasgestelde datum en vir ‘n vasgestelde tydperk. Die Direkteur kan na sodanige kennisgewing, die plaas betree en okkupeer, kamp opslaan, plantegroei verwyder en heinings en hekke oprig. 

Alternatiewelik, kan die Direkteur sonder enige voorafgaande kennisgewing die plaas betree in die soeke na ‘n besmette dier, en kan ook sonder enige voorafgaande kennisgewing, beslaglê op ’n besmette dier en beveel dat die dier behandel, verwyder of geslag word.
 

Vergoeding vir diere wat geslag is 

Boere kan vergoeding eis vir diere wat op die bevel van die Direkteur geslag word.

Die Appélhof het in die saak van Minister of Agriculture v Bluelilliesbush Dairy Farming (Pty) Ltd ‘n eis van oor die R10 000 000 (tien miljoen Rand) ingevolge die Wet toegestaan, omrede 7 000 (seweduisend) beeste in die Oos-Kaap uitgeslag is ten einde die verspreiding van Tuberkulose te voorkom. 

Die eis was gebaseer op Artikel 19 van die Wet, saamgelees met Regulasie 30, wat bepaal het dat waar ’n besmette dier uitgeslag word, ‘n boer 80% (tagtig persent) van die billike markwaarde van die dier kan eis en dat waar ‘n onbesmette dier uitgeslag word om die verspreiding van ‘n siekte te voorkom, ‘n boer 100% (eenhonderd present) van die billike markwaarde van die dier kan eis. 

Regulasie 30 is egter na afloop van die bogenoemde uitspraak op 22 Mei 2009 gewysig. Die gewysigde regulasie bepaal dat die Direkteur voorts oor die “toepaslike vergoeding” moet besluit, sou diere op die direkteur se bevel geslag word.
 

Vervolging vir oortredings 

Grondeienaars en plaasbestuurders moet hulself vergewis van die Wet en die Regulasies tot die Wet. 

In terme van Artikel 33(1)(d) van die Wet, wanneer ‘n grondeienaar of plaasbestuurder vir ‘n oortreding in terme van die Wet vervolg word, word daar vermoed dat hy/sy voldoende kennis gehad het, tensy die teendeel bewys word. Die persone wat vervolg word moet egter bewys dat hul nie deur die uitoefening van redelike ywer en versigtigheid sodanige kennis sou kon verwerf nie. 

Voorts, in terme van Artikel 34 van die Wet, kan grondeienaars en plaasbestuurders middelik aanspreeklik gehou word vir enige oortreding van die Wet vanweë enige doen of late van ‘n werknemer of selfs van ‘n lid van hul gesin.
 

Hierdie is nie ‘n situasie waarin enige grondeienaar of plaasbestuurder hulself wil bevind nie en ons beveel konsultasie met ‘n regskundige aan sou dit nodig wees.

Hierdie artikel is slegs vir inligtingsdoeleindes bedoel en is ‘n bondige uiteensetting van die bovermelde regsposisie. Melding is nie noodwendig gemaak van al die fynere nuanses soos uiteengesit in die wetgewing nie. Hierdie artikel moet onder geen omstandighede as formele regsadvies beskou word nie. Kontak gerus VDT Prokureurs indien u enige navraag in verband met die bogenoemde het. Ons help u graag. 

www.vdt.co.za |info@vdt.co.za | 012 – 452 1300 

© VDT Attorneys

May 11, 2020
The implications of a waiver of rights by directors

The implications of a waiver of rights by directors

The Supreme Court of Appeal (“SCA”) recently handed down a judgement in what has been cited as a ‘landmark case’ in respect of the waiver of directors’ rights and the impact of such waiver on a company. In this article, we look at what a ‘waiver’ of rights in terms of a contract entails and what the effect of such a waiver by directors may have on a company, specifically concerning debts owed to the company.

Consistency is key for Homeowners Associations

Consistency is key for Homeowners Associations

With communal living being the preference for many, issues arising from these regulated environments are to be expected. This demands that the regulatory bodies entrusted with running the communal living environments demonstrate consistency in the application of their rules and standards concerning their constituents. In this article, we look at the conduct of a Homeowners Association that failed to act consistently in the application of its rules.

Sign up to our newsletter

Pin It on Pinterest